Aalwurms

NviroTek brei steeds uit en die nuwe Biologiese Laboratorium  bied  nou ook Aalwurmontledings aan

In lyn met NviroTek Laboratoriums se visie om ‘n eenstop-diens aan die landboubedryf te lewer, is ‘n biologiese laboratorium gevestig wat, vir nou, hoofsaaklik op die ontleding van aalwurms fokus.

Hierdie inisiatief word deur Lihandus Erasmus  hanteer en onder lisensie van Nemlab  bedryf. Hy het met sy BSc Honneurs as basis die Nematologie kursus bygewoon, aangebied deur Professor Driekie Fourie van Plantbeskerming by die Noordwes Universiteit. ‘n Verdere kursus, aan die Universiteit van Monash, wat handel oor aalwurms en die geïntegreerde beheer op graangewasse, bome en groentegewasse het hom beter toegerus vir die taak. Onder leiding van Sheila Storey van Nemlab het hy die identifisering en interpretasie van resultate bemeester.

Die Biologiese afdeling by NviroTek Labs doen ontledings op alle gewasse vir die beheer van bestaande aalwurmplae en die voorkoming van potensiële aalwurm probleme. Monsters word voorberei in ‘n aparte laboratorium (sien foto hieronder).  Aalwurms word onder die mikroskoop ondersoek en per tipe getel soos in die onderstaande foto van die laboratorium aangedui.

 

Wat is aalwurms?

Aalwurms is mikroskopiese, ongesegmenteerde wurms in die Phylum Nematoda. Hulle leef in die waterfilm wat om grondpartikels voorkom. Hieronder is ‘n foto wat geneem is van wat onder ‘n mikroskoop waargeneem word.

Hulle kan verder verdeel word in plantparasitiese- en vrylewende aalwurms. Die plantparasiete voed op die plantweefsel en kan tot ekonomiese- en kwaliteitsverliese lei. Vrylewende aalwurms (of nie-plantparasitiese aalwurms) voed op swamme, bakterieë, organiese materiaal en ander aalwurms.

Plantparasitiese aalwurms, wat op plantwortels voed, veroorsaak dat die plant nie meer so effektief nutriënte of water uit die grond opneem nie. Hierdie verskynsel word dan soms verkeerdelik geïdentifiseer as voedingstoftekorte of ‘n tekort aan water. Dit veroorsaak dat die oorsaak van die probleem nie aangespreek word nie.

Aalwurms word in alle grondtipes aangetref en vermeerder indien ‘n gasheerplant aangeplant word. Dit kan dan ‘n wanbalans teweeg bring waar die plantparasitiese aalwurmgetalle eksponensiëel toeneem en skade op die aangeplante gewas veroorsaak. Onder natuurlike toestande is daar ‘n balans tussen plantparasitiese- en vrylewende aalwurms. Om hierdie plaag doeltreffend te beheer of te voorkom moet gronde gereeld gemonitor word vir aalwurms om oesverliese te voorkom.

 

Hoe lyk aalwurmbesmetting in ‘n land?

Aalwurms beweeg stadig as gevolg van hul grootte en word oorgedra na onbesmette grond deur menslike aktiwiteite soos grondbewerking en aan die skoensole van werkers wat in die lande rondbeweeg. Die belangrikste bron is besmette voortplantingsmateriaal. Aalwurm-infestasie kan soms bogrondse simptome wys maar is moeilik om uit te ken. Bogrondse simptome is gewoonlik tipiese kolle waar swak groei voorkom soos gesien op die foto hieronder. Hierdie kolle vergroot wanneer daar geen aalwurm-beheer toegepas word nie.

 

Hoe werk aalwurm biologie?

Die lewensiklus van aalwurms met die eksterne faktore (in die 4 hoeke) waardeur hulle beïnvloed word. Die lewensiklus kan van 21 dae tot 9 maande duur, afhangende van die aalwurmspesie en omgewingstoestande soos temperatuur, grondtipe, grondvog en gasheerplante (aangeplante gewasse en/of onkruide). Hierdie eksterne faktore bepaal die verspreiding en populasie van aalwurms.

Plantparasitiese aalwurms voed verder op verskillende dele van die wortels (elk met sy ooreenstemmende simptome aan die wortelstelsel). Sommige tipes voed aan die buitekant van wortels (ektoparasiete) en ander voed binne-in die wortels (endoparasiete). Die skade wat aan selle aangebring word belemmer die normale oordrag van nutriënte en water wat dan die groei van die plant benadeel. Sommige aalwurms het ‘n baie wye gasheerreeks, byvoorbeeld knopwortelaalwurms (Meloidogyne spp) en letselaalwurm (Pratylenchus spp.), wat op meeste gewasse voor kom. Ander aalwurms is weer meer gasheerspesifiek, byvoorbeeld die sitrusaalwurm (Tylenchulus semipenetrans).

Hoe om aalwurms te beheer?

Verskillende metodes kan aangewend word om aalwurms te beheer. Dit hang af van die grootte van die land, die mees praktiese metode wat gevolg kan word, of ‘n kombinasie hiervan.

  • Chemiese beheer
    • Gebruik geregistreerde middels teen geregistreerde dosis
  • Bestuur
    • Weerstand – Gebruik weerstandbiedende kultivars of onderstokke waar beskikbaar. Let op dat weerstand of toleransie slegs teen een aalwurmsoort is.
    • Skoon plantmateriaal – Gebruik altyd skoon plantmateriaal, aangesien endoparasiete saam met die wortels kan in kom.
    • Braakperiodes met verwydering van onkruide en opslagplante kan oorweeg word.
    • Gewasrotasies of dekgewasse met swak gashere ingesluit is ‘n goeie beheerstrategie.
    • ‘n Vyf-spesie (of meer) aanplanting wat ‘n gras, graan, peulgewas, brassica en radys kan insluit sal voordelig wees.
  • Biologies
    • Slegs geregistreerde middels wat getoets is moet gebruik word.
  • Wortelgesondheid
    • Aalwurms is strespatogene, dus is gesonde wortels van kardinale belang. Die toediening van ‘n kelp-ekstrak, ‘n Bacillius spesie, ‘n Trichoderma spesie en mikorisa sal help om wortelgesondheid te verbeter.

Hoe om ‘n aalwurm monster te neem vir ontleding deur NviroTek?

Verwys na ons webtuiste www.nviroteklabs.co.za vir die volledige monsternemingsprosedure.

Verwysings:

Storey, S. Nematodes. http://www.nemlab.co.za/wp-content/uploads/2015/10/01_Nematodes.pdf

Jeschke, M. and Mathesius, J.  2018. Corn Nematodes.

https://www.pioneer.com/home/site/us/agronomy/library/corn-nematodes/. Date of

access:18/06/2018.

Jeschke, M. and Mathesius, J.  2018. Corn Nematodes. https://www.pioneer.com/home/site/us/agronomy/library/corn-nematodes/. Date of access:18/06/2018.

Krueger, R. and McSorley, R.  2017. Nematode Management in Organic Agriculture.

http://edis.ifas.ufl.edu/pdffiles/NG/NG04700.pdf.  Date of access: 21/06/2018

Krueger, R. and McSorley, R.  2017. Nematode Management in Organic Agriculture. http://edis.ifas.ufl.edu/pdffiles/NG/NG04700.pdf.  Date of access: 21/06/2018

  1. Fourie et al. 2017. Nematology in South Africa: A view from the 21st Century.